Tuesday 11 March 2014


Vrou, dáár is jou man

(08/03/2014)

 

Little Boy en Fat Man

het selfvoldaan

hulself geledig:          

geëjakuleer oor Hiroshima

en Nagasaki, hul

saad van sterwe

kom stort

manlik, vol bravade.

 

Harry Truman, magtigste man van

Die Verenigde State van Amerika

wydsbeen oor die aarde.

 

Vroue en dogters

van Rwanda, Bosnië, Soedan,

Malala Yousafzai wat meisies wou laat lees,

en leer,

sonder sluiers na die wêreld wou laat kyk,

het ‘n man ontmoet, op ‘n bus,

met ‘n Colt 45,

haat fanaties in sy jeukende vingers.

 

Nog vroue, nog name, nog dooie statistieke:

Anene, Ina, Aisha,

en oral manne met gewere

of erekte organe soos gewere

bajonette wat skeur

en onteer,

een komma vyf miljoen keer

per jaar,

‘n oue van dae hier

‘n maagd daar,

in hierdie wye vrye droewe land,

Ukuthwala in landelike Transkei

nóg jonger bruide in die olieryke harems,

die jagse vergryp

van bebaarde bepensde bejaarde

patriarge, die bewind van die geswolle stywe pyp.

 

Vromes in Irak, met steen in die hand

wys die hoer uit, die slegte vrou,

God is Groot, prewel die Heiliges.

 

Chinese vroue produseer

seuns en mans om die lande te ploeg

die fabrieke te beman

en swaar gewapen

die vrede te bewaar.

 

In Las Vegas, Rivonia en Hamburg vroue wat

skootdans

vir regters, baronne, en geestelikes 

die vlees, die vlees, die vlees

heilig is die vlees,

nóg heiliger die Man se Mag.

 

Oral manne met gewere

of erekte organe soos gewere

bajonette wat skeur

en onteer

mans wat fok en fok en fok

sonder keer.