Thursday 25 June 2015


Verloën

(Charleston)

                

Hulle verwelkom hom, hartlik,

medebroer in die gees en woord,

dis goed om iemand van sy kleur hier te hê,

dink hulle en dank die Vader,

hy wil kom kyk hoe hulle bid

die hande gevou in die skoot

die oë gesluit, opwaarts gerig.

Oues en jonges

hy wil hulle kom hoor bid vir die siekes en werkloses

die weerloses

in die middel van die week,

hy wil hulle hoor sing

uit volle bors, met oorgawe,

soos hulle altyd sing in Hollywoodfilmweergawes

van die lewe aan die anderkant van hierdie land.

Hy wil voel of sy gees nog hier is,

want net soos hy, het hy ‘n droom

hy walg  aan die tekstuur van hulle hare,

wrok vir die donkerte van hulle vel,

vervloek die wit van hul oë,

verag die gebede van hulle tonge.

Hy wil ‘n nagmerrie word

sy wêreld is klein, ongekompliseerd,

met maklike antwoorde,

hy ken die grammatika van haat,

die breedsprakige beeldspraak van meerderwaardigheid,

die retoriek van uitverkore ras,

alles, is netjies verpak,

in swart en wit.

Tussen teksverse, en onder gebed, kies hy

die dooies sorgvuldig uit:

een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege.

ses vroue, drie mans

hy wil kom kyk hoe hulle bid vir hul daaglikse brood

met Bybels op die skote oop

en hulle bloed wat teen ‘n kruis afloop.

 

No comments:

Post a Comment