Monday 30 December 2013


Vrypas

 

Pa, onthou jy ons in derde klas

(met die harderige banke,

of soms in die oop rywa, bombela)
 
die swart passasiers met  

die gevlegte rietmandjies

op die heel boonste laairak

hoe gasvry hulle die tuisgebraaide werfhoender,

bakbrood en koffie uit ’n fles 

eerste vir ons aangebied het, my kinderskoeneles

in ubuntu,

(ek treinsiek, by die venster)


daar was baie stasies

knus, klein plekkies met nostalgiese name

Poupan, Kraankuil, Beskuitfontein, Bletterman,

jy’t hulle elkeen geken,

elke stasie het sy eie storie vertel,

sommige met kafees,

gebakte vis en stomende moerkoffie

vir die leë fles op koue winternagte

netjiese groen akkers gras

by die ingange,

bont blombeddings wat gepas

het, by rooi-gepoleerde stoepe,

 

(daar was groot kruisings,

Noupoort noorde toe

en Touwsrivier na die Kaapse kant)

drywers met blinkgepoetste kostrommels,

trotse manne met werk en vername beroepe

lampman, sinjaalbeampte, rangeerder en laaimeester,

die stasiemeesters, gesiene menere,

manne wat elke jaar of twee die nuutste model kon ry

Chevrolets, Fords, en, voor die koms van 4x4’s

Ranchero-bakkies en El Camino’s met die netjies toegeritste

leerbedeksel oor die laairuim.


De Aar het vertak na alle plekke

’n polsende aorta van voortsnellende vragte,

vol jong troepe om iemand anders

se heilige oorlog in ’n onbekende land

te gaan veg, trollies gelaai

met springbokkarkasse,

geskiet deur ministers en hulle gevolg

vername manne wat braai,

biltong kerf by kampvure en bosberade

net hoe wyd was die Heer se genade?

tot by die perron se gatkant moes ons loop,

amper heel onder die dak uit,

op die rand, weg soos lastige onkruid,

om te kon mag sit, op die gemerkte

nie-blanke banke,

ek, skatryk, met ‘n tabaksakkie met 100 eensentmunte,

 
Pa, ek reis nog, enige klas wat ek wil,

met ’n skerm en ’n muis,

saans sit ek met boeke

lees nuwe wêrelde oop,

en nou maak ek vir jou ’n boek

probeer met woorde op jou spoor terugloop

onthou jy nog die episode met die Groen Ghoen?


Soms sien ek jou in die nou gang

staan, die venster oop en die roet

wat teen jou wang

kom sproet,

ek hoor weer die wiele rol,

sien die kole voor gloei, ’n vlamrooi gesig,

sien weer ’n windpomp in die maanlig

draai  en die helder sterre

wat soos oë van die dooies stol, die hemelruim vol.
 

Pa, die dood is ’n boemeltrein wat niemand kan verpas nie.


Here pa, ons mis jou,
híér op die toegegroeide sylyne van die lewe.

 

 

 

No comments:

Post a Comment