Die man
Dit is die
lang man, die lang man,
in die groen
jersey
almal wou hê hy moes op die water loop…
maar hy het
eerder met ou tannies,
boeretannies,
met baie bagasie
en
gemoedelike name soos Betsie
en
ongemaklike vanne soos Verwoerd
tee gedrink,
hartlik
geglimlag,
opreg, met
sy oë,
met ’n hart vol onthou,
maar sonder
haat.
Dit is die
lang man, die lang man,
in die groen
jersey
almal wou hê hy moes die brode vermeerder
maar hy het
eerder
die letsels
van die verlede
met sy twee
hande toegemaak
die
bokshandskoene weggepak
die gebalde
vuis oopgemaak
’n
rojale groet,
sonder
verwyt.
Dit is die
lang man, die lang man
in die groen
jersey
almal wou hê hy moes uit die water wyn
maak
maar hy het
hierde land
soos ’n kind, op sy rug gedra, geabba,
die man wat ’n eiland was,
sonder gesig
met die
splinters van Sharpeville,
die
briefskerwe se sterwe van Ruth First
die bittere
jarelange verlange
na kind, na
vrou,
weggesluit
agter tralies
alles,
iewers in sy gees vasgekerf,
weggepak.
Dit is die
lang man, die lang man
in die groen
jersey, nommer ses
wat nou die
land, soos ’n
rugbybal
vir ons
elkeen wil aangee.
Die man, wat
hier eens net ’n
eiland was
het ’n rots, ’n universele baken, geword.
Nkosi Sikelel' iAfrika.
(c) Clinton V. du Plessis, 2013
No comments:
Post a Comment